Sunday 23 November 2008

Sondag Shopping Stories


Ek moet julle eers vertel... Ek is al vroeg wakker ten spyte van die min slaap, en sit en wag vir Ouboeta om op Skype te klim, maar niks. Sit so lekker en surf oppie net dat ek vergeet om PJ te herinner van werk toe ry, toe moes ek vinnig spring om hom weg te vat.

Ek dog toe, ek IS nou in die dorp, laat ek gou shopping doen want die melk en brood en kaas is op. En met die uitklimslag haak my dun katoenbloesie en GRRRTTSSS skeur die linker-naat mooi oop tot onderkant my ondergoedjies.

Toe sit ek nou met hierdie conondrum... ry ek huistoe en trek iets anders aan en ry WEER al die pad in winkels toe, of koop ek gou 'n ander bloes (wat ek nie nodig het nie) met geld wat ek nie het nie?

Maar wat, boerin maak 'n plan. Ek vat mooitjies die pante bymekaar, druk my handsakkie onder my linker-arm in om alles bymekaar te hou en knyp verwoed vas dat niks uitsteek nie, want die wind waai kwaai. Voel half snaaks want AS ek nog 'n handsak dra (haat die goed) en AS ek dit onder my arm vasknyp (mos nie nodig in hierdie land nie), dan doen ek dit onder my regterarm, so alles voel half vreemd.

Nou moet julle sien, ek het mos nou nie gedink aan trollie stoot met een arm nie, synde dat linker arm nou andersins ge-utiliseer is. En al wat 'n bleddie skepsel is sal mos nou in Pak-n-Save wees vandag! Maar wat, ek hanteer alles mooi ten spyte van die swaar verkeer en onnosel mense wat nie weet van hou links nie of familie-vergadering hou in die rye dat mens nie kan verbykom nie, verskuif net so af en toe die handsakkie as dit voel of hy uitglip.

Ek koop net die nodigste, wat ongelukkig (tipies) nie bymekaar is nie maar wyd versprei oor die hele winkel. Maar toe kom dit by uitpak vir betaalslag, en mens het mos twee arms nodig!

Ek vat maar die pantjies mooi saam en druk dit by my langbroek in, en laai uit so vinnig ek kan. Gelukkig pak die Till-Trixie dit weer in die waentjie - dis hoe dit werk hier. Hulle gee nie sakke nie, maar sit alles in 'n leë trollie langs die till en dan stoot jy weer jou uitgepakte trollie daar en vat die vol een as jy loop. Dan pak jy dit self in sakke wat jy of saambring, of koop, of leë kartonbokse wat jy wegraap voor die volgende ou.

Alles werk mooi, maar ai, buite gekom het die sterk wind wat die weer-lieger voorspel het, opgesteek. Nouja. Manoewer nou 'n vollerige trollie met een arm in die wind, in 'n oorvol parkeerarea en karre wat toustaan vir 'n enkele plekkie wat dalk oopgaan, en jy verdien jou trollie-laaisins op die plek. Genadiglik is dit 'n NZ trollie, nie een van daai nagmerrie goed waaraan ek sal moet gewoond raak in Australia nie, kyk, DIT sou onmoontlik gewees het met net een arm. Ons het mos Oktober met die vakansie 'n voorsmakie gehad, het altyd gedog die SA-Aussies vergroot so effens met hulle baie klagtes oor die Aus-trollies wat so hier-daar-oral hol met hulle vier los wiele. Skies julle.

Nouja, ek het dit darem huistoe gemaak sonder om ou omies te verlei en ou tantes apopleksie van skok te gee met my onkuisheid. Nou wonder ek net waar het ek die naaimasjien ingepak... dalk moet ek maar die ou bloesie demote na skroplap, maar ek lief hom so, hy is so lekker lig vir die warm weer wat gaan kom in Aus. Die lap is bietjie dunnerig, netnou brand Seza my weer ... sal maar was en inpak vir eendag se regmaak daar anderkant.

Dink net, julle, oor 5 weke is ek in Australia!

*****

Wednesday 19 November 2008

Genius comes at a price!


Dis nou wat jongste MiniMe netnou vir my sê, net na ek my middelvinger gebrand het, hier onder by die basis reg waar hy teen wysvinger skuur. Klein hel. Gee hom sommer 'n klap op sy gat, maar dit kan jy ook nie meer nie, want dis kindermishan-deling. Yeah right, dan is ek seker ernstig mishandel (apologie aan my dierbare ouers wat aan praktiese kindersielkunde geglo het), maar nouja dit het my niks skade gedoen nie, eerder goed. Was ok maar 'n cheeky klein blogsempie, dis seker waar Dawid dit vandaan kry.


Hoe het ek gebrand... ek kom daarby. Sien, die loemende Groot Trek het my skielik laat besef ek moet skoonmaak ook, elke hoekie en draaitjie. Toe koop ek vir my op Trademe 'n lekker Pullman steam jet masjientjie. Man hy werk lekker. Te goed eintlik. As mens te lank op een plek stoom haal hy sommer die verf of kleur van die muurpapier ook af. En toe word die nozzletjie vuil en ek veeg hom so ingedagte met die lappie in my linkerhand, ja daai ene met die gat in wat ek eintlik al wou wegsmyt maar nou handig inkom. Die gat, dis nou waar die popo die fen strike, sien. Want toe die vuurwarm (stoom, onthou) nozzletjie by die gat kom, wat mooi met my sensitiewe vingertjie opline, toe dink ek woorde wat ek nie veronderstel is om te ken nie.

My lus vir skoonmaak is sommer geblus. Maar daar is geen genade vir arm mense en immigrante nie en ek moet aangaan want Seza is doer ver in Donker Afrika.

Of is ek nou 'n emigrant - het al so baie getrek ek weet ook nie meer of ek kom of gaan nie.

Saturday 15 November 2008




Sê my,
Is daar iewers dalk 'n land van rus en
Sê my,
Is daar vêr 'n vreemde kus
Waar die swerwer eindelik rus?
En as daar is
Neem my saam, neem my saam
Wie weet, iewers is daar dalk 'n land van rus en
Wie weet
(Koos du Plessis)


Ek leen ernstig by beide ou Koos Rasperstem en medeblogger http://pitkos.blogspot.com/ wat dit eerste gebruik het. Maar jissie, dis so gepas in ons geval. Ek en LM (Liewe Man) het van die begin af wanderlust gehad... Secunda, Phalaborwa, Richards Baai, toe NZ, eers Doubtless Bay en Kaitaia en die laaste 3 jaar Auckland. En hier gaat ons alweer...

Maar ek dink ons rus is hier. Minder as 'n uur in Brisbane met ons Oktober vakansie, het ons besef ons is tuis. Uit-bleddie-eindelik. Net jammer ons moes terugkom om te sort en weg te smyt en te pak.

Dis waar ons nou sit. Hurry up and wait. Ons wag vir die pakkers om die container te pak, en dit gaan nie gebeur voor middel Desember nie, want jongste MM (Mere Male of Mini Me, afhangend van sy graad van domgeit op daai oomblik) moet eers klaar skoolgaan, sien.

En ek en Wag was nog nooit maatjies nie. Ongeduldig het niks teen my nie. Sien, my ou Moeks het altyd gesê sy sal dit of dat NIE DULD NIE, en dis net waar ek met my negatiewe konnotasie met die basiswoord geweier het om in die ry te staan vir dit.

Nog 'n probleempie is dat ek nie altyd mooi luister nie. En dan wonder ek waar kry my MM's dit?

Okay, voor ek julle verveel, lang storie kort. Na sewe blisvolle jare in New Zealand is ons op pad na die Wonderlike Land van Oz. Gedog die keer sal ek dit vir die nageslag neerpen, anders verloor ek dalkies weer al my notas soos met die groot trek hierheen. &#@%& tegnologie is nie dependable nie, een crash en WOOSH als is weg.

Ek dwaal alweer af. Anyway, kan nie wag vir Krismis die jaar nie. Nie oor hy so wonderlik gaan wees nie, maar ons vlieg die dag daarna.

KRISMIS KOM NOU!