Sunday 23 November 2008

Sondag Shopping Stories


Ek moet julle eers vertel... Ek is al vroeg wakker ten spyte van die min slaap, en sit en wag vir Ouboeta om op Skype te klim, maar niks. Sit so lekker en surf oppie net dat ek vergeet om PJ te herinner van werk toe ry, toe moes ek vinnig spring om hom weg te vat.

Ek dog toe, ek IS nou in die dorp, laat ek gou shopping doen want die melk en brood en kaas is op. En met die uitklimslag haak my dun katoenbloesie en GRRRTTSSS skeur die linker-naat mooi oop tot onderkant my ondergoedjies.

Toe sit ek nou met hierdie conondrum... ry ek huistoe en trek iets anders aan en ry WEER al die pad in winkels toe, of koop ek gou 'n ander bloes (wat ek nie nodig het nie) met geld wat ek nie het nie?

Maar wat, boerin maak 'n plan. Ek vat mooitjies die pante bymekaar, druk my handsakkie onder my linker-arm in om alles bymekaar te hou en knyp verwoed vas dat niks uitsteek nie, want die wind waai kwaai. Voel half snaaks want AS ek nog 'n handsak dra (haat die goed) en AS ek dit onder my arm vasknyp (mos nie nodig in hierdie land nie), dan doen ek dit onder my regterarm, so alles voel half vreemd.

Nou moet julle sien, ek het mos nou nie gedink aan trollie stoot met een arm nie, synde dat linker arm nou andersins ge-utiliseer is. En al wat 'n bleddie skepsel is sal mos nou in Pak-n-Save wees vandag! Maar wat, ek hanteer alles mooi ten spyte van die swaar verkeer en onnosel mense wat nie weet van hou links nie of familie-vergadering hou in die rye dat mens nie kan verbykom nie, verskuif net so af en toe die handsakkie as dit voel of hy uitglip.

Ek koop net die nodigste, wat ongelukkig (tipies) nie bymekaar is nie maar wyd versprei oor die hele winkel. Maar toe kom dit by uitpak vir betaalslag, en mens het mos twee arms nodig!

Ek vat maar die pantjies mooi saam en druk dit by my langbroek in, en laai uit so vinnig ek kan. Gelukkig pak die Till-Trixie dit weer in die waentjie - dis hoe dit werk hier. Hulle gee nie sakke nie, maar sit alles in 'n leë trollie langs die till en dan stoot jy weer jou uitgepakte trollie daar en vat die vol een as jy loop. Dan pak jy dit self in sakke wat jy of saambring, of koop, of leë kartonbokse wat jy wegraap voor die volgende ou.

Alles werk mooi, maar ai, buite gekom het die sterk wind wat die weer-lieger voorspel het, opgesteek. Nouja. Manoewer nou 'n vollerige trollie met een arm in die wind, in 'n oorvol parkeerarea en karre wat toustaan vir 'n enkele plekkie wat dalk oopgaan, en jy verdien jou trollie-laaisins op die plek. Genadiglik is dit 'n NZ trollie, nie een van daai nagmerrie goed waaraan ek sal moet gewoond raak in Australia nie, kyk, DIT sou onmoontlik gewees het met net een arm. Ons het mos Oktober met die vakansie 'n voorsmakie gehad, het altyd gedog die SA-Aussies vergroot so effens met hulle baie klagtes oor die Aus-trollies wat so hier-daar-oral hol met hulle vier los wiele. Skies julle.

Nouja, ek het dit darem huistoe gemaak sonder om ou omies te verlei en ou tantes apopleksie van skok te gee met my onkuisheid. Nou wonder ek net waar het ek die naaimasjien ingepak... dalk moet ek maar die ou bloesie demote na skroplap, maar ek lief hom so, hy is so lekker lig vir die warm weer wat gaan kom in Aus. Die lap is bietjie dunnerig, netnou brand Seza my weer ... sal maar was en inpak vir eendag se regmaak daar anderkant.

Dink net, julle, oor 5 weke is ek in Australia!

*****

No comments:

Post a Comment